Menu

Content

Breadcrumb

Die dag toe die aarde opgeraak het

Nuus, Datum: 28.03.14

Die dag toe die aarde opgeraak het

Onlangs het ek die voorreg gehad om na dr. Martin Stuchtey, direkteur van McKinsey in München te luister. Hy sê dat daar tans 1,9 miljard "verbruikers" op aarde is. 'n Verbruiker is iemand wat $10 per dag het om te spandeer nadat in sy basiese behoeftes voorsien is. Dié syfer gaan glo oor die volgende 20 jaar vermeerder na 4,9 miljard!

Vir mense wat ernstig is oor die verligting van armoede is dit goeie nuus. Die moeilike vraag is egter waar die bronne of grondstowwe vandaan gaan kom om hierdie ekstra 3 miljard verbruikers van goedere te voorsien.

Dit word al hoe duideliker dat die huidige nywerheids- en ontwikkelingsmodelle nie volhoubaar is nie. China skep tans elke jaar iets wat gelykstaande is aan 'n hele Australië of drie Suid-Afrikas, maar 'n stad soos Beijing is eintlik nie meer 'n veilig bewoonbare plek nie. China se reële groeikoers ná die berekening van die ekologiese impak is veel laer as die 7,5% wat vanjaar verwag word.

Die Bybel is propvol opdragte oor die onselfsugtige bewaring van die aarde. Mag ek dit kras stel: Die aarde is heilig, maar ons gebruik en misbruik haar soos 'n prostituut wat ons dink ons bloot kan agterlaat nadat ons behoeftes bevredig is.

Die vermelde gesprek met dr. Stuchtey was deel van 'n konsultasie wat die EFSA-instituut tussen kerkleiers en sakelui van Suid-Afrika en Beiere in Duitsland gereël het. 'n Paar dinge het verder vir my duidelik geword.

'n Gesprek tussen die kerk en die sakesektor oor 'n volhoubare ekonomie en toekoms is belangrik, maar 'n moeilike gesprek. Sakeleiers rapporteer aan aandeelhouers, wat opbrengste verwag. Ons staan egter voor een van die grootste gedwonge ekonomiese en nywerheidsomwentelinge wat die wêreld in baie dekades gesien het. Ons sal eenvoudig 'n ekonomie moet bou op skoner energie en bronne ten minste drievoudig meer hersirkuleer.

Dit bring my by die sensitiewe saak van skaliegas in die Karoo. Ons moet seker aanvaar dat die projek verwesenlik sal word. En kom ons aanvaar al die beloftes dat hierdie "skoon" energie ons gaan help. Daar is egter twee sake waaroor ons sal moet bly praat en die regering verantwoordbaar sal moet hou.

Eerstens praat ons hier van groot geld wat ter sprake is. Hoe gaan ons verseker dat daar nie gulsige hande in die pot gesteek word nie? Ons huidige situasie wys hoe broos Suid-Afrika in hierdie opsig is. Tweedens word groot beloftes gemaak oor al die regulatoriese vereistes wat nagekom moet word ten einde te verseker dat die Karoo nie seerkry nie. Wie gaan toesien dat dit wel nagekom word?

As dié dinge jou kop laat draai, kom kniel in die Lydenstyd saam met my by die kruis op Golgota. Haal dan diep asem en luister fyn. 

Bron: Die Burger 2013-04-12

 

Sign Up to Receive the Omgee Newsletter: